My mind, the only one I will ever have.Home | Profile | Archives | Friends
Wie is ek nou eintlik?My naam is Nicky Mann. Gebore in Pretoria Gauteng op 31 Mei 1979. Jip dit maak my nou 26, oor twee dae 27. Maar wat is in 'n naam. Net mooi niks nie. Ek kon net sowel Sue-Ellen gewees het. Dit se niks van wie ek is nie. Behalwe dat, omdat dit my nooiensvan is ek nog nie getroud is of was nie, en ook dat my pa se van Mann was. Was, want hy's oorlede in 1983. Wat beteken dat ek hom nooit werklik geken het nie.
Gebore in Pretoria, waar my pa en ma 'n huis gekoop het, hul eerste. Het 'n ouer broer en suster, ons was 'n gelukkige familietjie. Vir 'n kort rukkie ten minste. Maar dan, ek kan die tyd nie onthou nie aangesien ek 'n pasgebore babetjie was, en my geheue van ouderdom 2 na 4 is maar bra skraps. Ek kan presies 6 gebeure onthou, gebeure wat eintlik so onbelangrik is, kan nie se hoekom ek juis dit onthou nie.
Gelukkig het ons in 'n baie klein dorpie gewoon. Meeste mense het van ons penarie geweet. Gelukkig, alhoewel dit soms irriterend kon wees, die mense ons jammer gekry en sommer gou het my ma 'n werkie losgeslaan by die plaaslike kooperasie. Die enigste huis beskikbaar in die HELE dorpie, was 'n krot. Letterlik. Die plek het omtrent inmekaar geval. Maar dit het mure, 'n dak, vensters en deure gehad. 'n Dak wat heelwaarskynlik gelek het, kan nie eintlik onthou nie, maar 'n dak nietemin. 'n Massiewe tuin, paradys vir 'n 4 jarige!
Dis wat ek onthou, die sement dam in die agterplaas. Die dam was leeg en ek het 'n manier gevind om binne in te kon klim, en dis waar ek my huisie gebou het. Met my boetie se karretjies gespeel het. Ons het nie juis veel speelgoed gehad nie, maar ek het 'n hele wereld van my eie gehad. Die tuin was my paradys. My verbeelding het omtrent vlerke gehad daar.
Van kleins af het ek geleer om die realiteit met my verbeelding op te tower. En soms het ek myself laat glo dinge is anders as wat dit werklik is, en ek het dit geglo met alles wat ek was. Vandag is ek soms steeds so. Die engelse noem dit "denial". Verbeel jou dit het nooit gebeur en "poeffff" dis weg. Soos in die flieks. Dit verdwyn. Probleem is net, dis ongelukkig nie hoe die lewe werk nie. Dinge "verdwyn" nie sommer net nie. Mens moet leer om probleme vierkantig in die oe te kyk en dit uit te hanteer. Heeltemal van die punt af maar in elk geval. Feit bly staan. Die ervarings wat jy as kind het is heel waarskynlik die basis waarop jy jou lewe sal hanteer. Die indrukke wat as kind neergele word sal bepaal hoe jy as volwassene sal wees. Dis 'n teorie. As jy lees oor reeksmoordenaars en kriminele, selfs homoseksuele mense. Almal se kinderlewens was redelik hartseer.
Van geboorte tot omtrent 12 jaar oud kan ek nie werklik kla nie. Ja dit was rof toe my pa oorlede was, maar ek onthou wel dat ek omring was deur sekuriteit en liefde. Van 12 jaar af het die prentjie drasties verander. Dinge in ons huis was nie juis pluis gewees nie. Die atmosfeer het verander na gespanne. Rede, my ma en stiefpa het nie baie goed oor die weg gekom nie. Hulle kom steeds nie baie goed oor die weg nie. Dis hoe dit was van 12 tot 17. Toe trek ek en my ma uit die huis uit. My ma is na my broer toe in dieselfde dorp en ek is na die losieshuis waarin my suster ook gewoon het. Dit was meer 'n geografiese skuif as enige iets anders siende dat my suster nader aan my skool gebly het. Ouderdom 17 tot 18 onthou ek as uiters gespanne. Vir my 'n absolute "struggle for survival". Alleen, baie alleen. Dis waar my sogenaamde depressie wortels begin skiet het. Ek wou nie so vroeg al my eie potjie krap nie, maar het nie 'n keuse gehad nie. Ek moes maar alleen aansukkel, my suster was in 'n baie slegte verhouding, wat emosioneel baie skade gelaat het op haar, en ek was toeskouer. My broer was pas deur 'n egskeiding wat baie lelik afgegaan het. My ma en stiefpa het probleme gehad wat haar heel besig gehou het. Ek was 'n uitblinker op skoolgebied, altyd vol grappies en lag (onthou jy my verbeeldingsvlugte, poeffff en dis weg) wel dit was my manier om die atmosfeer te probeer verlig. Lag. Maar dit het sy tol op my ge-eis. Dis uitputtend om iets te wees wat jy nie is nie. Almal het gedink ek is OK. Ek lag dan altyd. Ja ek lag altyd maar binne my was dit stukkend en baie seer. Het myself omtrent elke aand aan die slaap gehuil.Ek kon ook net so lank voorgee. My maskertjies het opgeraak. Die vernis lagies weggeskaaf. My stukkende siel het begin deurskemer. En ewe skielik was almal bekommerd oor my. My ma het my na die sielkundige geneem. Ek het dit gehaat. Dit het my kwaad gemaak. Ja goed. Ek wou nie meer lewe nie. Het nie juis meer omgegee nie. Myself in my akademie ingegooi. Al my frustrasies op my skoolboeke uitgestudeer. Ek wou almal wys ek is OK. Ek wou almal wys ek is die beste. Die enigste plek waar ek koning kon kraai. Waar ek almal in die oe kon kyk. As gevolg van my dubbele lewe het ek nie veel energie oorgehad om 'n sosiale lewe aan te pak nie. My lag het min geword. Ek was moeg, uitgeput. Ek wou weg kom. Weg van die vervloekste dorp waar ons gebly het. Weg van almal wat my ken. Ek wou oor begin. 'n Nuwe lewe vir myself bou. 'n Lewe waar ek werklik gelukkig was. Ek was moeg vir my verbeeldingsvlugte, ek wou dit realiteit maak. Ek wou regtig gelukkig wees, nie net oe-verblindery nie. Dit het seer gemaak om my familie so in flarde te sien. My suster se seer, my ma s'n, my broer s'n. Dit was als deel van my seer. En op 'n manier het ek ook gedink aan die onregverdigheid van die situasie. Op 'n manier het ek hulle kwalik geneem dat hulle nie daar was vir my nie. My nie genoeg ondersteun het nie. Ek het gevoel dat ek nog 'n kind moes wees. Maar ek kon nie een wees nie. Ek was omring deur probleme, bakleiery, hartseer, pyn en sommer net chaos. En niemand in die dorp het geweet daarvan nie. Op die oppervlak was ons 'n model gesinnetjie. My maatjies het nie eens geweet toe uitgetrek het nie.
Ag wat. So almal het hartseer en pyn as hulle grootword. Mense word mishandel, word groot in haglike omstandighede. En hier sit ek en skryf oor ek elke aand warm geslaap het, altyd kos gehad het om te eet, shame foeitog, jou ma en pa het nie oor die weg gekom nie. Jou pa het nie gedrink nie, nie jou ma geslaan nie, jou nie mishandel of verkrag nie. Die atmosfeer in die huis was maar net onaangenaam. En jy't 'n chip op jou skouer. Ek het soveel dinge in my guns. Ek reken die mense wat oor hulle omstandighede kan kom, deur dit kan kyk en steeds iets van hulself maak, dis die mense na wie 'n mens kan opkyk. Ek dink mens moet jou omstandighede vat en dit beskou as iets wat jou sterker gemaak het, ondervindings waaruit jy kon leer, goed en sleg. Ek het nog altyd dinge vinnig gesnap. Het sekere dinge maklik verstaan. Menslike dinge. Ek kon die atmosfeer in 'n huis aanvoel. Vir my was dit half tasbaar. Was ongelooflik sensitief, is vandag nog so. Menslike dinge het vir my sin gemaak. Ek kon verstaan wanneer iemand seer het. Ek het net geweet as iets nie pluis is nie. Kon aanvoel wanneer 'n individu ge-irriteerd was, kwaad was, hartseer en dies meer. Net as dit by mans gekom het was my "judgement clouded".
Ek skat dit het iets te make met die feit dat my selfbeeld vol gate is en ek erg onseker kan wees van myself in sekere situasies. Die feit dat ek nog nooit werklik geglo het ek is mooi of aantreklik nie. Ek is maar net wat ek is. Ek haat grimering, ek haat dit om ure voor die spieel te spandeer. Ek hou gewoonlik nie van die nuutste modes nie en trek dit ook nie sommer aan nie, is nie juis baie "hip" of "cool" nie. Ek was nooit deel van die "in crowd" nie.
Ek dink die mens wat jy is hang af van die manier wat jy dinge interpreteer. Party kinders word groot in 'n huis waar die ouers drink en baklei. Een kind sal die lewe ingaan en besluit dat hy/sy nooit sal drink nie, die kind maak 'n sukses, bou 'n eie gelukkige gesin sonder enige drank of bakleiery. 'n Ander kind gaan die lewe in en die bose kringloop herhaal homself. Die individu doen presies wat sy ouers gedoen het. Dis 'n 50/50 spel. Die lewe dink ek is 'n 50/50 spel. Jy't altyd 'n keuse. Jy self moet besluit watter kant die weegskaal gaan oorhel. Reg of verkeerd. Dis moontlik waaroor die hele lewe handel. Reg en verkeerd. Jy moet geld verdien. Party verdien dit deur hard te werk. Ander deur dit te steel. Selfs al is jou keuses nie op 'n 100% skaal van reg en verkeerd nie byvoorbeeld watter beroep sal ek volg? Nee,dit is op die 50/50 skaal want: watter beroep is reg of verkeerd vir my. Ha! Reg en verkeerd. Watter motor sal ek koop? Reg of verkeerd. Watter man/vrou sal ek "date"? Hy/sy is reg of verkeerd vir my. Watter vriende gaan ek kies? Regtes of verkeerdes. Waarop gaan ek my geld spandeer? Dit wat ek nodig het en reg is vir my of dit wat ek nie nodig het nie bo iets wat ek eerder moes kies en dus verkeerd is vir my. Reg of verkeerd. So wat het ons nou? Wie is jy? Gebasseer op jou omstandighede. NEE! Dit le 'n basis ja, maar jy het steeds die keuse van reg of verkeerd. Dis jou eie vrye wil wat uiteindelik gaan bepaal wie jy is. Die keuses wat jy maak eerder as die omstandighede waarin jy grootgemaak is. As jy in slegte omstandighede grootgeword het, het jy heel waarskynlik 'n baie moeiliker lewe voor jou, maar nietemin het jy nog steeds die vryheid van keuse hoe groot of hoe klein ook al. Niemand kan jou werklik forseer om te trou of te werk of te bly waar jy nie besluit jy sal werk of bly of met wie jy gaan trou nie. So party het meer geld as ander. Jy het steeds die keuse van hoe jy jou geld en tyd gaan spandeer hoe baie of hoe min dit ook al is. So wie is ek nou eintlik. Ek is die persoon wat ek kies om te wees. Elke mens het "handicaps". Myne was die atmosfeer waarin ek grootgeword het. Ek is geseen met 'n ongelooflike verstand, ek is nie te onaantreklik nie, ek het mooi hande, mooi stem, mooi lag, mooi oe, kan dans, kan sing, kan orrel speel, kan blokfluit speel, verstaan dinge maklik, kan 'n intelligente gesprek voer, noem dit. Ek het vele talente. Ek is geseen. My handicap is net dat my selfvertroue nie te waffers is nie. As ek "confident" is kan ek enige iets bereik. Die oomblik as ek af is, dis dan wanneer ek sukkel.
Ongelukkig het ek ook geleer om maskers te gebruik. Ek gee altyd voor ek is OK! Maar ek is nie altyd OK nie. En omdat ek dit nie wys nie, breek my selfvertroue bietjie vir bietjie af omdat ek nie OK is nie. En naderhand val ek uitmekaar oor ek nie kan praat oor wat hier binne my aangaan nie. Gelukkig het ek vir Journalhome ontdek en gelukkig het ek 'n wonderlike man in my lewe wat ook begin om my krakies raak te sien. Vraag is nou net. Ek kan kies om oop te wees oor alles van my en die risiko is daar dat die man in my lewe nie meer so baie van my gaan hou nie. Daar is baie dinge wat hy nie van my weet nie. Ek is effe op my senuwees om hom in te laat op die "real deal". En aan die ander kant dink ek hy weet klaar siende dat hy hiper intelligent is en ook kan aanvoel as als nie A-OK is nie. Hy't klaar die donker sy van my aangevoel. Die sy wat nie praat nie, die sy wat baie depressief kan wees, die baie buie (mood swings!). Ek is 'n gemini. Nie dat ek glo dis hoe ek my lewe hoef te lei nie, weereens die keuse-ding. Tog het ek baie raakpunte met die gemini karakter. Ek dink my grootste "downfall" is seker maar die feit dat ek so "hardegat" kan wees.
Ek dink ek het die meeste van die antwoorde, ek moet dit net vir 'n verandering begin toepas. Dit begin lewe. Dit begin doen. In plaas van om in my donkerhoekie terug te trek my maskertjie op te sit en myself jammer te kry. Want ja, ek kry myself soms jammer, dik aan, maak dinge erger as wat dit werklik is. Probleem is net. My gesondheid begin swaarkry daaronder. Stres is 'n realiteit. En my lyf wys al die simptomes. En die keer dik ek nie aan nie. My gestel is af. Baie af. Ek word maklik siek, sukkel met my maandstondes, sukkel met allerhande dinge van ystertekorte, allergiee, hoofpyne, en sommer baie dinge wat alles "related" is. En die oorsaak: STRES. Hoekom stres ekso baie, siende dat ek soveel dinge in my guns het. Ek stres oor nonsens. Ek wou die drie letter woord gebruik het wat begin en eindig met 'n "k", maar ek's veronderstel om 'n dame te wees! Ja mense. Ons stres oor "k_k". 'n Drieletter woordjie wat die bestaan van ons lewens beskryf. En dis ons eie keuse ook. Wonderlik ne. All in the mind! Afrikaans se dit nie beter nie. It's ALL IN THE MIND!!!! Die oomblik wat jy beheer kan kry oor jou eie "mind" dis die oomblik wat jy nie meer 'n probleem van 'n dag oud sal he wat jou kan of sal onderkry nie. Dis my opinie. Ek ek weet ek is reg. Genoeg gekla vir een aand. Genoeg gefilosofeer vir een aand. Ek gaan nou slaap want more moet ek werk. Gnite! Share and enjoy<- Last Page :: Next Page -> |